Al ooit gewonder?

IMG_3883

Woensdag musiek

Wie onthou nog die musiek? Ek het hulle video’s altyd raar gevind – maar dit seker maar net ek…as jy net na die musiek luister vind ek dit wel mooi. Geniet.

Tekens.

Soms kry ‘n mens ‘n waarskuwings in die vorm van siekte, dood of momente in ander se lewe – wat jy besef…halllllloooo wake-up call!

Ek het die afgelope tyd weer heel veel slegte nuus gehoor, ervaar en gesien. Met die dood gekonfronteer, die dood weer geruik en die bekende geel van dood weer ervaar…die koudheid van geen lewe…die stilte van ‘n liggaam waar die siel van verhuis het. Ek het lank gelede – terwyl ek gestudeer het – en deur iets soortegelyk deurgegaan het – ‘n boek gekoop. In nederlands maar kosbaar soos my Bybel. Dis geskryf deur Arthur Samuels en die Nederlandse vertaling lees : KRASSEN OP JE ZIEL. – dus ‘ n kuns om afskeid te neem…en die boekie het my ‘n paar goeie tips geleer…

Selfs die klein dingetjies in die lewe – afskeid neem van ‘n belangrike moment in jou lewe, jou gunsteling vaas wat breek, jou gunsteling musiek wat stukkend of wegraak…klein dingetjies - 

Almal van ons weet dat dit die klein dingetjies in die lewe is wat die lewe intressant maak…vra maar enige kind wat onthou hy van sy kleintyd…dit is die gevoel van vreugde wat weggebere word indie eenvoudige momente van tesame wees. Ek onthou ouma Kittie se kappie met die pers omstiksels en haar sagte vel as sy jou soen. Ek onthou haar pampoenbredie uit die louoond. Ek onthou oupa Izak se Sabraal, sabraal hoe laat is dit? speeltjies en sy wolf en jakkels verhale. Oupa Okkie se manier van loop en sy “poppie” as hy met jou praat. Ouma Ria se aansteeklike lag en haar lekker gebraaide vis en gebakte poedings…

In die tekens van die tye besef ek ook ons is almal elke dag nader aan ons eie dood – elke dag nader…dus my vraag is aan myself…wat doen jy intussentyd met die lewe Riana Brand?

Maandag!

Soms moet jy net niks se nie en laat ander dit maar namens jou doen – dus ek laat die Mama & Papas dit maar uitsing. Do I need to say more? Sela! Monday!

Kom ons maak musiek!

Dis naweek – en die week le op sy rug…laat ons dans en vrolik wees…daar is wolke in die lug – wat reen voorspel – om die hitte te breek, my plantjies water te gee en om my ‘n gevoel van blyheid te gee. Kom maar reen…

Hy sing darem maar mooi die man!

Dood – stilletjies die deur uit.

Ek het die afgelope 2 nagte riller werk nagte agter die rug. My eerste werknag was dit so besig en druk dat ek nie eens tyd gehad het om 1x na toilet te gaan of om ‘n koppie koffie te drink nie. Verlede nag was ook druk, maar ek het ‘n siek bewoner wat die vorige nag al snaaks asem gehaal het oorgeneem van die late diens – met longontsteking. Die probleem met longontsteking is dat dit neem ‘n redelike tyd voor die antibiotika inskop – en as jy 72 jaar oud is met ‘n slegte weerstand kan dit op ‘n negatiewe manier afloop. Negatief is dan dood gaan - 

Ek weet nie of ek ‘n voorgevoel gehad het en of ek net op my gevoel gegaan het nie, maar ek was byna elke 30 minute by die man op die kamer om te sien of ek hom in sy ademnood kan ondersteun. Soos die nag aanloop hoor jy ook hoe sy longe voller en voller word. Dit is aaklig om te luister na iemand wat sukkel om asem te kry – dis asof elke asemteug ‘n oorlewing op sigself is. Dit het so erg geraak dat ek en die suster van die somatiese afdeling by ons,  die diensdoenende dokter in die vroee ogendure gebel het. Sy redenasie was dat hy ook niks vir hom kan doen 4 uur in die oggend nie. Nou intussen moet ook al die ander mense versorg, verskoon, gedraai en bemoeder word.

Om 5 uur het ek nog gaan kyk – maar hy het geslaap – op doktersadvies het ons sy slaapmedikasie vir hom gegee om hom tot rus te bring – maar die stryd om lug het nog steeds voort geduur…. Toe ek om 05H30 weer verby hom kom is daar ‘n stilte…en in die flitslig kan ek sien dat sy kleur nie goed is nie. Dit is geel – geel van die dood. Ek het tog vir sekerheid sy pols en asemhaling gekontroleer, maar daar was niks…hy het sy liggaam verlaat…stilletjies by die deur uit gegaan…en die aardse lewe agtergelaat. Hierdie skrywe is vir jou meneer X – mag jy goed ontvang word by die mense met vlerke – hoop dat jy nou alles weer kant onthou en dat jy nie meer alleen en eensaam voel. Mag die dood jou die rus en vrede gee wat jy verdien. Veilige reis my vriend. Adieu.

BILD1408

“As is verbrande hout”…

So is die uitdrukking in ‘n Afrikaanse spreekwoord. Ek moet altyd aan hierdie uitdrukking dink as ek na “If” van Bread luister.

Dit laat my ook dink aan dinge wat ek nog wil doen – ek besef al hoe meer dat ons as mense te veel in die verlede leef, of in die toekoms maar in die nou en hier respekteer en leef ons nie soals ons veronderstel is om te leef nie. Voluit en met elke ademteug in genieting!

Wat soms ‘n mens tot stilstand dwing is dood en siekte – ek moes die afgelope weke heel veel weer met dit gekonfronteer in my direkte omgewing. Mense wat ek lief het wat dood gaan, mense wat ek van hou wat doodgaan, mense wat ek verpleeg wat doodgaan en mense wat ek lief het wat siek raak, slegte nuus kry en gekonfronteer word met hulle self – dis alles dinge wat jou laat besef dat die lewe is sooooo kort. Elke moment moet ons voluit leef en geniet.

Geniet die musiek en luister na die woorde…

Sondag = Vivaldi.

Hier by ons is dit somer – die son skyn en die blomme het skielik besluit om hulle mooiste kleure uit die kas te haal en ons plesier te doen. As ek na Vivaldi se Four Seasons en dan spesifiek na die Summer gedeelte luister kan jy amper die uitbundigheid van somer voel in die musiek. Dit is alles so op ‘n wulpse manier van “hier is dit” Dit is somer laat ons feesvier! Almal wat my ken weet dat somer nie my ding is nie – ek hou nie van warm kry nie en ek hou ook nie van die son die heeltyd op my vel nie! Gee my maar die winter. Met Leffe-man is dit net die teenoorgestelde – hy raak goedgesind as dit mooi weer is. Hy kan eg geniet van die son en natuurlik alles wat daarmee saam gaan. Nou ek geniet van Vivaldi – luister lekker saam. Geniet julle somer mense en ek sal maar duim vas hou dat die winter snel kom!.

Geen goeie nuus.

Vanoggend het ek van my vriendin gehoor dat sy kanker het. ‘n Uur later kry ek ‘n telefoontjie dat Michael Jackson en Farrah Facett dood is. Ek vind dit alles so op jou afkom asof jy oorspoel word met slegte nuus. Maar iewers binne in my probeer ek dit dan te realitiveer en dit ‘n plek te gee. Ek het gaan oplees oor skildklierkanker – en dit is uitsonderlik goed te behandel – afhangend in watter stadium en watter soort jy het. Dood is deel van ons almal se lewens – en Farrah het ook ‘n heel erg en uitsonderlik kanker gehad – anale kanker en ek dink dit moet ook erg vernederend wees vir so ‘n mooi vrou om deur so iets getref te word. Michael is blykbaar dood aan ‘n hartaanval. Ek vind sy dood miskien die ergste – of sal ek se die sadste – vir my sal hy altyd die jonge bly wat “Ben” gesing het. So sal ek hom ook graag wil onthou – die onskuldige kind wat deur ‘n grootmens wereld gefoseer was om groot te word – maar diep binne in hom altyd klein gebly het. Mag hulle almal rus in vrede.

Vir my vriendin het ek goeie nuus – sy sal nie alleen wees in die geveg teen kanker nie. Daar is te veel mense wat vir haar bid en omgee. Sterkte Jean.

Totsiens oom Pieter.

Gister het ek die slegte nuus gekry dat oom Pieter Burger oorlede is. Ek het hom by my pa se verjaarsdag verlede jaar gesien en min het ek geweet dit was die laaste keer wat ek hom gegroet het. ‘n Groot boom het geval. My innige simpatie aan tannie Hester en haar kinders. Sterkte vir julle. Ons dink aan julle. 

HPIM1543